VISSER Jan Coenraadsz, circa 1633-circa 1700

Die tekening van die Kaap hieronder is gedateer 1665, drie jaar na Van Riebeeck se aankoms daar, en is ‘n treffende visuele herinnering aan hoe klein die Europese nedersetting aan die Kaap aanvanklik was.

Teen ongeveer 1657 is daar slegs 145 nie-inheemse zielen aan de Caeb resideren [1]:

  • 105 VOC amptenare
  • 10 vryburgers
  • 1 vryswarte (vroulik)
  • 6 Europese vroue
  • 12 Europese kinders
  • 3 manlike slawe
  • 8 vroulike slawe

Op 28 April 1658 sluit Jan Coenraadsz VISSER aan by die bogenoemde groepie zielen aan de Caeb. Vier jaar later, in 1662, sluit sy vrou Geertjen GERRITS en hul kinders by hom aan.

VRYBURGERS

Die Vryburgers was werkers van die VOC aan wie toestemming verleen is om die VOC se diens te verlaat (dus “vry burgers” te word) en te gaan boer. Sedert 1657 is die eerste plase aan hulle toegeken.

Aanvanklik moes die Vryburgers saai en plant wat die VOC voorskryf en die lae pryse van die VOC aanvaar. Reeds in 1658 het die Vryburgers in opstand gekom teen die VOC se ekonomiese voorskriftelike regeerwyse.

Wikipedia -Pioniers (1652-1820)

Vroeg in 1657 het Jan van Riebeeck aan die eerste 9 vryburgers hul grondbriewe oorhandig. Volgens ‘n 1957-artikel deur J.S. du Plessis van die P. U. vir C. H. O.  getiteld Die Vryburgers van 1657. Húlle was die eintlike Volksplanters [2] het hierdie groepie bestaan uit:

  1. Harmen Remajenne van Ceulen, bosschieter;
  2. Jan Maertensz. de Wacht van Vreelandt, dito;
  3. Jan van Passel van Geel in Brabant, soldaet, dat oock een broeuwer ende brandewijnbrander is;
  4. Warnaer Cornelisz. van Nunspeet, bootgesel;
  5. Roeloff Jansz. van Dalen, soldaet;
  6. Steven Jansz. [Botma] van Wageningen, bootsgesel, geverseert in de tabacqplanterije;
  7. Hendrick Elbertz. van Ossenbrugge, adelborst;
  8. Otto Jansz. van Vreede, soldaet;
  9. Jacob Cornelisz. van Rosendael, dito

JAN COENRAADSZ VISSER alias JAN GROFF

Wat volg is enkele belangrike datums in Jan Coenraadsz VISSER se lewe, saamgestel met behulp van die bronne gelys in [3]-[6] hieronder:

  • circa 1630: Gebore in Ommen, Overijssel, Nederland.
  • circa 1649:  Trou met Grietje GERRITS van Hardenburg, Overijssel.
  • 1649-58: Geboorte van sy oudste drie kinders -Maria, Geesje en Gerrit.
  • 1658: Land in 28 April 1658 met die skip Dordrecht aan die Kaap en word ‘n paar dae later aangestel as jagter in diens van die Kompanjie.
  • 1659: Jan Coenraadsz word ‘n vryburger op 30 September.
  • 1660: Boer langs die Liesbeeckrivier op grond bekend as Bosheuvel.
  • circa 1660: Margaretha Jans VAN DE KAAP word gebore uit ‘n buite-egtelike verhouding wat VISSER na bewering met die slaaf Lijsbeth VAN BENGALE gehad het.
  • 1661: Versteek homself op die skip Zeepaard in ‘n poging om weg te kom uit die Kaap. Getuig later oor die swak lewensomstandighede wat koloniste aan die Kaap moet verduur.
  • 1662: Jan Coenraadsz se [betreklik ongewone] versoek dat sy vrou en kinders by hom mag aansluit, word toegestaan en op 4 Februarie 1662 arriveer sy vrou Grietje GERRITS en hul drie oudste kinders aan die Kaap.
  • 1663-67: Geboortes van Jan Coenraad en Grietje GERRITS se drie jongste kinders -Coenraad, Zacharia en Johannes.
  • 1676: Verkry toesig en beheer oor sy oudste dogter, Maria Jansz VISSER, se twee buite-egtelike kinders -Cornelis en Dina OLIVIER.
  • 1688: Boer op die plaas Wittebomen, wat in later jare deel word van die Groot Constantia-landgoed.
  • 1692: Moord op sy vrou Grietje GERRITS.
  • 1692-97: Onbevestigde verhouding met die slavin Maria VAN NEGAPATNAM waaruit nog vier kinders gebore is.
  • circa 1700: Sterf op onbekende datum.

MOORD OP GRIETJE GERRITS

Op ‘n Vrydagaand in Maart 1692 het Grietje GERRITS en haar slavin Maria VAN NEGAPATNAM in die kombuis gewerk toe die slaaf Claas VAN MALEBAR deur die kombuis geloop het om hout te gaan kap.

Grietje het met hom geraas omdat hy laat was en het ook nie sy verskoning aanvaar dat hy die koeie gaan soek het in die berge nie. Claas sê toe:

“Jou oud hond, jij moogste den selvs gaan haalen”

Hierna probeer Grietje om Claas te slaan met ‘n stuk hout, maar Claas vat ‘n byl en slaan die byl reg in haar nek, dit was noodlotig en haar kop was amper afgekap.

Maria VAN NEGAPATNAM hardloop toe na Jan Coenraad VISSER en skreeu:

“Baas, Baas! Moeder is dood! Moeder is dood!”

Claas het na sy arrestasie min berou getoon oor die daad wat hy gepleeg het. Hy is ter dood veroordeel en geradbraak.

MARIA JANSZ VISSER

Maria Jansz VISSER is gebore circa 1649 in Ommen, Overijssel, Nederland, die oudste dogter van Grietje GERRITS en Jan Coenraad VISSER. In 1662, vier jaar na haar pa se aankoms aan die Kaap, sluit sy en haar ma en haar jonger sibbe by hom aan. Twee jaar later, in circa 1664, trou Maria Jansz VISSER in Kaapstad met Willem Willemsz DE LIERMAN.

In 1672 skiet Willem Willemsz DE LIERMAN ‘n Hottentot wat later beswyk aan sy wonde. DE LIERMAN vlug na Europa op ‘n verbygaande skip en word tot voortvlugtige verklaar aan die Kaap. In 1673 keer hy egter terug na die Kaap nadat hy ‘n petisie gerig het aan die Prins van Oranje aangaande sy status as voorvlugtige. Die owerhede aan die Kaap besluit egter om DE LIERMAN op Robbeneiland aan te hou tot ongeveer 1676.

Nadat hy uit aanhouding vrygelaat word, vind hy dat sy vrou in sy afwesigheid ‘n buite-egtelike verhouding aangeknoop het met Ockert Corneliszoon OLIVIER. Laasgenoemde het as kneg vir DE LIERMAN gewerk. Maria Jans VISSER se twee OLIVIER-kinders word in die sorg van haar vader geplaas en sy en DE LIERMAN word na Batavia verban. In 1677 maak hulle weer kortliks ‘n verskyning aan die Kaap maar word dan na Mauritius verban waar DE LIERMAN in ongeveer 1686 dood is.

Maria Jansz VISSER word deur die owerhede toegelaat om in 1690 terug te keer na die Kaap waar sy in circa 1718 oorlede is. In haar boedel laat sy ‘n huis na in die Berghdwars Straat, Kaapstad. [5]

Vir meer inligting omtrent Jan Coenraad VISSER en Grietje GERRITS se ander kinders, sien Richard Ball se webwerf.

VERWANTSKAP

Ons is deur middel van die volgende persone verwant aan Jan Coenraadz VISSER en sy vrou Grietje GERRITS:

BRONNE

[1] Delia Robertson, First Fifty Years – a project collating Cape of Good Hope records (http://www.e-family.co.za/ffy/ : accessed 26 July 2019), Remarkable Writing > Mansell Upham > UL14 Cape Mothers. Groote Catrijn van Paliacatta (c. 1631-1683), her slave Maria van Bengale and her de Savoye daughter-in-law Marguerite-Thérèse (1673-1742); http://www.e-family.co.za/ffy/RemarkableWriting/UL14CapeMothers.pdf, p.31-32

[2] J.S. du Plessis, Die Vryburgers van 1657. Húlle was die eintlike Volksplanters, P.U.vir C.H.O, fotokopie van artikel gepubliseer circa 1957

[3] A.M. van Rensburg, Suid-Afrikaanse Stamouers (https://www.stamouers.com/ : accessed 22 April 2019), VISSER, Jan Coenraad; https://stamouers.com/stamouers/surnames-v-z/585-visser-jan-coenraad

[4] Delia Robertson, First Fifty Years – a project collating Cape of Good Hope records (http://www.e-family.co.za/ffy/ : accessed 22 April 2019), Entry for Jan Coenraad Visser; http://www.e-family.co.za/ffy/g5/p5295.htm

[5] Richard Ball, Ball Family Records –My South African Ancestors (https://www.ballfamilyrecords.co.uk/safamilies/index.htm : accessed 7 August 2019), The Olivier and Visser Families of the Cape > Jan Coenraadsz Visser alias Jan Groff; http://www.ballfamilyrecords.co.uk/olivier/I111.html

[6] Delia Robertson, First Fifty Years – a project collating Cape of Good Hope records (http://www.e-family.co.za/ffy/ : accessed 7 August 2019), Remarkable Writing > Mansell Upham > UL04 Hell and Paradise… Hope on Constantia / De Hel en Het Paradijs… De Hoop op Constantia: Jan Grof (died ante 1700) and his extended family at the Cape of Good Hope; http://www.e-family.co.za/ffy/RemarkableWriting/UL04DeHoopOpConstantiaJanGrof.pdf

 

Advertisements

One thought on “VISSER Jan Coenraadsz, circa 1633-circa 1700

Die kommentaar is gesluit.